Die voormalige prokureur van Malalane, Zietta Janse van Rensburg, is borgtog van R6,000 toegestaan deur die Nelspruit-landdroshof.
Sy en haar gewese skoonpa, Johan Janse van Rensburg, is Maandag weens aanklagte van bedrog, diefstal en geldwassery gearresteer in ‘n saak wat verband hou met ‘n eiendomstransaksie van R14 miljoen in 2021.
Johan is dieselfde dag borgtog van R10,000 toegestaan.
Die ondersoekbeampte het gister tydens Zietta se borgaansoek getuig hy ondersoek nog sewe soortgelyke sake teen haar en glo sy is ‘n vlugrisiko.
Volgens Netwerk24 is Johan ‘n klaer in een van dié sake.
Hulle moet op 14 Mei weer in die hof verskyn.
Intussen sal Zietta vanaf Maandag in die Nkomazi-streekshof in Boschfontein verhoor word in ‘n onverwante saak op aanklagte van bedrog, vervalsing en die wysiging van ‘n kontrak.
Prokureur van Malalane kan vandag aansoek doen om borgtog na arrestasie weens bedrog, 14 April
Twee regspraktisyns van Malalane het gister in die Nelspruit-landdroshof verskyn op aanklagtes van bedrog, diefstal en geldwassery.
Zietta Janse van Rensburg word daarvaan aangekla dat sy ’n sakeman in 2021 bedrieg het met die verkoop van ’n sakeperseel in Nelspruit ter waarde van R14 miljoen.
Die fondse is na bewering oorgeplaas na die rekening van haar 73-jarige skoonpa, Johan Janse van Rensburg, wat ook ’n prokureur is.
Zietta is voorheen gearresteer weens soortgelyke, onverwante sake.
Sy is in 2024 as regspraktisyn geskors na sy skuldig bevind is aan wangedrag.
Johan is borgtog van R10,000 toegestaan. Beide verskyn vandag weer in die hof.
Twee regspraktisyns aangekeer weens R14m, 13 April
Die Valke in Mpumalanga het twee regspraktisyns in Malalane in hegtenis geneem vir bedrog, diefstal en geldwassery wat verband hou met ’n sakebedrogspul van R14 miljoen.
Die arrestasies volg op ’n ondersoek na bewerings dat ’n 40-jarige prokureur ’n sakeman in 2021 bedrieg het onder die voorwendsel dat sy die verkoop van ’n sakeperseel in Nelspruit sou fasiliteer.
Die fondse is na bewering oorgeplaas na die rekening van haar 73-jarige skoonpa, wat ook ’n prokureur is, om die opbrengs te verberg.
Hulle sal na verwagting in die Nelspruit-landdroshof verskyn sodra alle administratiewe prosesse vir vervolgingsprosedures voltooi is.
Volgens die Valke is die vrou voorheen gearresteer weens soortgelyke, onverwante sake.
Intussen het die Regspraktykraad regsverteenwoordiging aangestel om die vertraagde skrapping-saak teen haar weer aan die gang te kry en weer op die rol te plaas.
Die raad sê vertragings is veroorsaak deur uitstaande hofstukke.
Sy is in 2024 geskors na sy skuldig bevind is aan wangedrag.

