Virgin-lid bevraagteken veiligheid na diefstal

Written on August 30, 2024
Mireille

Pront en plaaslik: Skakel in op 100.5FM vir Laeveld nuus in Afrikaans.

The post Virgin-lid bevraagteken veiligheid na diefstal appeared first on Radio Laeveld.

Diewe laat hulself nie deur toegangsbeheer en sluitkaste stuit nie – ook nie in die plaaslike gimnasium nie.

Ten minste drie selfone is twee weke gelede uit die aantrekkamer by Virgin Active se Nelspruit Crossing-tak gesteel.

Ruan Oosthuizen sê hy het die sluitkas met ‘n kombinasieslot gesluit, en na sy swemsessie was sy selfoon skoonveld uit sy sak wat in die kassie was.

Twee ander mans het dieselfde oorgekom en hulle het die voorval saam by ontvangs gaan rapporteer.

Oosthuizen, wat dit sterk oorweeg om sy lidmaatskap te kanselleer, sê die gim het nonchalant voorgekom (en hom eers meer as ‘n week later gekontak, na Radio Laeveld ‘n media navraag aan Virgin Active gerig het).

“Ek het die sluitkas gebruik, en gesluit,” sê hy. “Ek verstaan hulle kan nie kameras in die kleedkamers opsit nie, maar wat meer moet ek meer doen? Ek kan nie met my foon gaan swem nie!”

Hy is daarvan seker dat dit gim-lede is wat die selfone gesteel het, want niemand anders kan toegang tot die perseel verkry nie.

Virgin Active sê dat hulle bewus is van dergelike voorvalle by hul takke.

“Die realiteit is ongelukkig dat ons almal deur toenemende vlakke van misdaad geraak word.

“Ons is daartoe verbind om te verseker elke gim is ‘n veilige en positiewe omgewing, en ons neem alle nodige stappe om ons lede se eiendom se beskerm, insluitend om sluitkaste te verskaf vir waardevolle items wat strategies in areas geplaas is met baie voetverkeer en wat konstant deur kringtelevisiekameras gemonitor word.”

Vir Oosthuizen, wat foto’s van sy pasgebore baba kwyt is en boonop nou meer vir sy versekeringpremies moet betaal omdat hy kwansuis as ‘n hoë risiko beskou word, is dit skrale troos.

“Hulle doen eintlik niks nie,” sê hy. “Solank meer mense net agterkom die gim is nie meer veilig nie.”

Sien ook: Pumas moet WP wen om Curriebeker lewend te hou

The post Virgin-lid bevraagteken veiligheid na diefstal appeared first on Radio Laeveld.