Dertien vermoedelik onwettige mynwerkers, insluitend twee vroue, is Sondag in Sabie as deel van Operasie Vala Umgodi aangekeer.
Volgens die Mpumalanga-polisie is 12 van hulle burgers van Mosambiek en een kom van Eswatini.
Hulle moet vandag in die hof verskyn.
Saterdag is nege vermoedelik onwettige mynwerkers by Mashoboto in Schoemanskloof gearresteer (sien hiernaas).
Die polisie het bedrywighede in die area verskerp na skietvoorvalle verlede week tot die tydelike sluiting van die N4 gelei het.
Die Premier, Mandla Ndlovu, het die polisie geprys vir die arrestasies en gesê dit sal help om orde te herstel en die beweging van mense en goedere sonder vrees moontlik maak.
‘n Polisiewoordvoerder, Donald Mdhluli, sê die arrestasies bring die totale aantal vermeende onwettige mynwerkers wat oor die naweek in hegtenis geneem is, op 22 te staan.
Luister:
AfriForum het die dringende ingryping van Puleng Dimpane, waarnemende nasionale kommissaris van die polisie, geëis ná die herhaalde gewapende konfrontasies tussen vermeende onwettige mynbougroepe in die Schoemanskloof-omgewing.
Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, sê ses vermeende onwettige mynwerkers is in Augustus by Mashobote dood aangetref met nog ernstige skietvoorvalle verlede week weens mededinging tussen onwettige mynbougroepe.
Die burgerregteorganisasie het terugvoer van Dimpane versoek oor planne om beheer oor dié brandpunt van onwettige mynbou te verkry en die kriminele netwerke wat daar bedrywig is, af te takel.
Luister:
Nege vermeende onwettige mynwerkers in Schoemanskloof gearresteer, 5 Oktober
Die Mpumalanga MEC vir Gemeenskapsveiligheid, Jackie Macie, het die arrestasie van nege verdagtes wat vermoedelik betrokke is by onwettige mynbouaktiwiteite in die Mashobodo-gebied in Schoemanskloof Saterdag verwelkom.
Die verdagtes, almal Mosambiekse burgers, is in hegtenis geneem tydens Operasie Vala Umgodi – ’n multidissiplinêre operasie wat gemik is op die bekamping van onwettige mynbou.
Dit kom na die N4 Schoemanskloof-pad verlede week verskeie kere gesluit is weens skietery tussen verskillende groepe vermeende onwettige mynwerkers waarna die liggame van twee mans gevind is.
Lees meer: Tweede liggaam ontdek na skietery in Schoemanskloof
Die verdagtes sal aangekla word van onwettige mynbouaktiwiteite en die besit van gouddraende materiaal asook toerusting en sal binnekort in die hof verskyn.