Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Willie Aucamp, het die inhegtenisneming van twee verdagtes in Mosambiek bevestig i.v.m die wrede moord op twee Suid-Afrikaanse toeriste in die Krugerwildtuin byna twee weke gelede.
Dina en Ernst Marais is op 20 Mei by Crooks Corner vermoor. Hul liggame is op 22 Mei deur ander toeriste by die uitkykpunt ontdek.
Elkeen het verskeie steekwonde gehad. Hul voertuig is verlede Dinsdag sowat 350 km weg in die Chokwe-area in Mosambiek verlate gevind.
“Ons het gesê dat hierdie misdadigers aangekeer sou word, en dit is presies wat gebeur het,” sê Aucamp. “Ek wil graag almal bedank wat van die begin af onvermoeid en samewerkend gewerk het om hierdie deurbraak te verseker.”
Luister:
Volgens SANParke word daar verstaan dat die verdagtes die misdade erken het.
Aucamp sê Suid-Afrika sal nou die formele uitleweringsproses begin vir die verdagtes om in Suid-Afrika vir die gruwelike misdaad tereg te staan.
“Ek het met my kollegas in die Departemente van Internasionale Betrekkinge en Samewerking en Justisie gesels om die belangrikheid te beklemtoon om die verdagtes se terugkeer na Suid-Afrika te verseker om die volle mag van die wet in die gesig te staar.”
Hy het ook sy waardering uitgespreek teenoor die toegewyde personeel by SANParke, die Suid-Afrikaanse polisie, Mosambiekse owerhede en bewaringsvennote vir hul buitengewone toewyding en samewerking, wat instrumenteel was in die bereiking van hierdie uitkoms.