Die twee uitstaande verdagtes in die R113 miljoen bedrogsaak in die Mpumalanga Onderwysdepartement het hulself gister en vandag aan die Valke oorgegee.
Hulle was in die buiteland ten tyde van die operasie waartydens 38 verdagtes sedert Sondag in vier provinsies gearresteer is.
Die saak hou verband met instandhoudingskontrakte by Mpumalanga-skole.
Beide het reeds in die hof verskyn en is borgtog van R50 000 toegestaan. Al die beskuldigdes moet op 26 Maart weer in die hof verskyn.
Intussen het die DA in Mpumalanga aan die Premier, Mandla Ndlovu, en die Provinsiale Regering geskryf en hulle versoek om a die betrokke regeringsamptenare wat aangekla word van korrupsie, bedrog en geldwassery te skors.
Volgens Bosman Grobler van die DA sal dit bewys dat korrupsie-gekoppelde regeringsamptenare en politici nie polities beskerm word nie.
R113m bedrogsaak uitgestel tot Maart, 26 Februarie
Die borgtogaansoeke van mense wat van bedrog, diefstal en geldwassery aangekla word in verband met R113 miljoen se beweerde bedrog in die Mpumalanga Onderwysdepartement is gister in die Nelspruit-landdroshof afgehandel.
Volgens die Valke is 38 van die 40 verdagtes sedert Sondag in hegtenis geneem.
Die ander twee sal na verwagting hulself binnekort aan die owerhede oorhandig.
Hulle word betrek by ongerymdhede met tenders vir noodherstelwerk by skole in 2019/20.
Borgtog van tussen R5 000 en R50 000 is aan die individue toegestaan.
In totaal beloop die bedrag vir almal R1 625 000.
Vyf van die beskuldigdes kon Maandag weens mediese of uitsonderlike redes reeds om borgtog aansoek doen.
Absalom Thela was destyds die waarnemende finansiële beampte in die departement. Volgens Sowetan is hy tans die hoof direkteur van fisiese hulpbronne.
Sy dogter, Palesa, was ‘n direkteur van ‘n maatskappy wat volgens die Valke gebruik is om die geld te was en om dit te herlei na die rekeninge van die betrokke regeringsamptenare.
Nog ‘n regeringsamptenaar, Nono Maribe, was ten tye van die beweerde bedrog ‘n senior direkteur in die departement.
Twee diensverskaffers, Ruth Khoza en Zandile Mdhluli, is ook borgtog toegestaan.
Hulle moet op 26 Maart weer in die hof verskyn.
Eergister is borgtog toegestaan aan onder andere Jabulani Nkosi wat in 2019 die waarnemende departementshoof was.
Volgens Laevelder is hy tans ‘n direkteur in die Mpumalanga Departement van Gesondheid en het hy voorheen as ‘n bestuurder in die Krugerwildtuin gewerk.
Volgens Netwerk24 word Absalom Thela en Palesa se vrou en ma, Virginia Thela, ook aangekla.
Die Valke vermeld dat twee van die aangeklaagdes pastore is.
Beskuldigdes verskyn in hof weens R113 miljoen se bedrog in Onderwysdepartement, 23 Februarie
Die DA en ActionSA het die arrestasie verwelkom van 33 individue weens beweerde bedrog, korrupsie en geldwassery van R113 miljoen by die Mpumalanga Onderwysdepartement.
Hulle het vandag in die Nelspruit-landdroshof verskyn en sluit glo nege regeringsamptenare in.
Volgens Sowetan sluit dit ook ‘n voormalige waarnemende departementshoof, diensverskaffers en privaat persone in.
Die Valke het gister tydens die operasie ondermeer ook die huis van ‘n Barberton-pastoor wat glo ‘n diensverskaffer was deursoek, hoewel hy nie tuis was nie.
Die saak dateer terug na 2018.
Volgens die Mpumalanga Valke het die provinsiale onderwysdepartement noodsaaklike instandhoudingswerk by 21 skole gelas, maar geen of substandaard werk is verrig teen buitensporige kostes en sonder om die nodige verkrygingsprosesse te volg.
In totaal is 27 verdagtes, insluitend regeringsamptenare, gister aangekeer.
Die meeste is in Mpumalanga gearresteer, maar ook in Gauteng, Limpopo en die Wes-Kaap.
Teen vanoggend was die aantal gearresteerdes 33.
Die provinsiale Valke-hoof, Nico Gerber, sê die operasie het altesaam 41 geïdentifiseerde verdagtes in die visier.
Luister:
Die Forum for South Africa se Tebogo Mashilompane waarsku teen roetine-borgtog in ernstige korrupsiesake.
Luister:
Intussen sê die Mpumalanga Departement van Onderwys dat dit verbind is tot etiese bestuur en aanspreeklikheid.
‘n Woordvoerder, Gerald Sambo, sê die departement sal ten volle met wetstoepassingsagentskappe saamwerk.
“Aangesien die saak nou voor die howe is, respekteer die departement die geregtelike proses en beskou die saak as sub judice,” sê hy in ‘n verklaring.
“Die Departement sal dus van kommentaar op die meriete van die saak op hierdie stadium weerhou, terwyl dit alle ontwikkelings noulettend monitor.”