TRACN4-tydren skop môre in Dullstroom af

Written on November 14, 2024
Mireille

Pront en plaaslik: Skakel in op 100.5FM vir Laeveld nuus in Afrikaans.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap (NRC) kom die naweek tot ‘n einde wanneer die opwindende seisoen met die 2024 TRACN4-tydren afsluit.

Dit vind hierdie Vrydag en Saterdag in die skilderagtige Dullstroom plaas. Die twee adrenalien-belaaide dae dek ongeveer 160 km van uitdagende terrein in Mpumalanga se woude wat spoed, presisie, uithouvermoë en strategie sal toets.

Vanjaar se kampioenskap, wat in Mei afgeskop het, is erg mededingend met Chris Coertse wat tans voor loop met 275 punte voor Anton Raaths in die tweede plek en die Oos-Kaapse held, Neels Vosloo, derde.

Die stryd om die oorblywende podiumplekke is ook nog lank nie verby nie, so ondersteuners kan naelbytaksie verwag.

In die Noordelike Streke-tydrenkampioenskap is die topaanspraakmakers, man en vrou-span Anton en Isabel Raaths, vasbeslote om hul voorsprong as bestuurder en navigator te behou.

Hewige kompetisie word egter verwag met deelnemers soos Johan Strauss en Elzaan Van der Schyff wat kort op hul hakke is.

Die resies skop Vrydag vanaf die Milly’s-vulstasie op die N4 af. Saterdag se aksie begin by The Oval in Dullstroom.

Vanjaar kan aanhangers ook uitsien na nuwe kenmerke, soos die deelname van die NRC 1 VW Polos wat nie in die 2023 te sien was nie.

Buiten die motorsportskouspel, het die TRACN4-tydren ‘n belangrike gemeenskapsgeleentheid vir eMakhazeni geword, sê Solange Soares, die kommunikasiebestuurder van TRAC N4.

Luister hier:

Sedert 2020 ondersteun dit onder meer die Dullstroom Epilepsiesentrum, wat ‘n belangrike rol speel om individue en gesinne wat met epilepsie leef, te ondersteun.

Kry die volledige program hier:

Foto: Verskaf

Sien ook: Refentse se Blue Tick is tops op Top 20