Dodetal styg tot ses in N4-botsing

Written on April 18, 2025
Mireille

Pront en plaaslik: Skakel in op 100.5FM vir Laeveld nuus in Afrikaans.

Die Mpumalanga departement van Gemeenskapsveiligheid het bevestig dat die dodetal in gister se trompop botsing op die N4-tolpad tot ses gestyg het met een van die beseerde pasiënte wat in die hospitaal aan sy beserings beswyk het.

Die botsing tussen ‘n sportnutsvoertuig en ‘n bakkie op die N4 tussen Machadodorp en Belfast het die verkeer vir ure vertraag.

Nog twee mense is ook ernstig beseer.

Die Mpumalanga Departement van Gemeenskapsveiligheid sê die oorsaak van die ongeluk word ondersoek, hoewel roekelose en nalatige bestuur nie uitgesluit word nie.

Nog twee mense is in Mpumalanga dood en elf beseer toe ‘n minibus op die N4 naby die Klein Olifantsdam by Middelburg omgeslaan het.

Die minibus was met lede van die Impact of Praise-kerk na Carnival City onderweg. Drie van die beseerdes se toestand is ernstig.

Die LUR, Jackie Macie, het sy medelye aan die slagoffers se families betuig.

Hy doen ‘n beroep op alle bestuurders om veral versigtig te wees in gure weersomstandighede.