Oproepe vir resolusie van konflik in Mosambiek

Written on December 12, 2024
Mireille

Pront en plaaslik: Skakel in op 100.5FM vir Laeveld nuus in Afrikaans.

Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, het gister die Lebombo-grenspos, wat die afgelope weke verskeie kere gesluit is weens politieke oproer in Mosambiek, besoek en ‘n beroep gedoen op kalmte.

Amnestie Internasionaal (AI) sê soveel as 110 mense is reeds dood in die onrus wat ontstaan het na Oktober se verkiesingsuitslag wat die regerende Frelimo as die wenner verklaar het.

Die premier van Mpumalanga, Mandla Ndlovu, het president Cyril Ramaphosa tydens ‘n bilaterale vergadering tussen ander ministers en die provinsiale uitvoerende gesag die week gevra om die voortslepende betogings met president Filipe Nyusi op te neem, omdat die provinsie ook daaronder ly.

Sien meer: Premier bekommerd oor impak van Mosambiek onlus

Die Padvragvereniging sê die krisis by die grenspos en vertragings by die Maputo-hawe kos die Suid-Afrikaanse ekonomie sowat R10 miljoen per dag.

Die uitvoerende hoof van die vereniging, Gavin Kelly, sê Suid-Afrika moet voorrang gee aan diplomatieke pogings om die krisis in Mosambiek op te los en versoek president Cyril Ramaphosa om in te gryp – om te voorkom Suid-Afrika en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap-streek stort ekonomies in duie.

Luister: ENG-KellyOnMozambique

Schreiber sê Suid-Afrika wil ‘n oplossing vir die dooiepunt hê, want dit het ‘n impak op handel en reis.

Die Internasionale Oorgrenshandelaarsvereniging waarsku ook vrag en toerisme word ontwrig en versoek die SAOG om in te gryp deur dialoog.

*Foto: TRAC N4